Blare en Sonskyn

Die mooiste verskynsel vir my is sonskyn wat deur die blare skyn op enige gegewe dag. Hierdie foto is in 2018 in Kirstenbosch geneem.

Advertisements

Ietsie Lekkers

Koffie. Ek kan nie my lewe sonder dit voorstel nie. As daar iets is wat somtyds die lewe vir my die moeite werd maak, dan is dit koffie. Soos in met elke dag.

Ek het dit so onlangs ontdek in ‘n Checkers winkel hier in die Kaap en dit is die lekkerste soort lekker wat enige mens kan kry. En net reg vir die winter ook.

Jacobs Koffie is nie aldag goedkoop nie, maar vandag was dit ‘n gelukkige dag gewees. En net reg vir die res van die langnaweek. En ek oordryf nie as ek sê dit is ongelooflik lekker.

Ek sê altyd wat is lekkerder as een beker koffie? ‘n Tweede beker koffie of dalk ‘n derde. Hulle kan baie dinge in die lewe wegneem, solank hulle nie koffie van hierdie planeet af verwyder nie.

Help

Ek het die boek vir die eerste keer in Augustus 2017 begin lees, ‘n paar maande nadat ek die film The Help met Emma Stone en Viola Davis oor ‘n paasnaweek in April van daardie jaar gesien het.

Beide die boek en film het my regop laat sit weens die feit oor hoe die mensdom mekaar behandel en hoekom dit so is dat mense op ander moet neersien juis omdat hulle dink dat hulle beter is as ander.

Elke keer maak dit my eintlik vies as ek sulke optrede sien. In die werklike en virtuele wêreld, en dit terwyl ons almal dieselfde gemaak is deur God.

Ek is bly die boek is geskryf en die film is gemaak want dit sal mense se oë eintlik oopmaak.

Reëndruppels

Vanoggend het daar broodnodige reën in Kaapstad geval. Vanoggend het ek ook die geleentheid gekry om God se natuurskoon raak te sien met reëndruppels wat op rose gesit het.

Na ‘n moeilike paar weke was dit nodig vir my om dit te sien. Dit was nodig om te besef dat ons altyd die mooi dinge in die lewe moet raaksien en dit onthou, want dit is tekens dat die lewe ook mooi kan wees.

Ons almal sien negatiewe dinge raak, maar om so iets so mooi te sien moet met die wêreld gedeel word.

Papier harte

Tydens etenstyd gistermiddag was ek effens verspot gewees en met dit vorendag gekom. Ek het A4 papier gevat en daarvan harte gevou, iets wat ek vir meer as twintig jaar kan doen.

Dit vat my terug na my hoërskool dae toe ek geleer het om papier harte kon vou. Ek was effens verroes om hoe om dit te doen gister, maar die herinneringe het gou na my toe gekom.

Dit was ‘n goeie ding dat ek in so ‘n ligte luim was want die afgelope paar weke was nogals baie moeilik gewees. Hierdie jaar vir my was geensins maklik nie.

Maar ek probeer my bes om die beste daarvan te maak.

Roxy

Hierdie week was swaar en baie hartseer want ek en my familie moes afskeid neem van Roxy, ons Jack Russell wat Maandag skielik oorlede is. Die nuus was soos asof iemand my hart uit my borskas geruk het en as ‘n bonus, ‘n hou op my maag toegedien het. Roxy was veertien jaar oud en was ‘n ligpuntjie in ons lewens.

Roxy het in ons lewens gekom in Maart 2005 toe sy agt weke oud was. Sy het sommer die eerste aand my hart gesteel. Sy was maar baie skaam en nie altyd so woelig soos met al die ander Jack Russels nie, behalwe as daar katte en hadidas op ons grasperk gewees het. Ons het haar altyd die lady van die familie genoem.

Sy was altyd lief daarvoor om op ons skote te sit. Sy sou baie maklik sonder enige skroom op ons skote gelê het sodra ons gaan sit het. Sy was ook mal daaroor om ons te agtervolg in die huis waar ook al ons gegaan, was sy. En ek sal nooit vergeet die tyd toe sy op haar rug gelê het sodat ons haar magie moes krap.

Al hierdie herinneringe van veertien jaar is baie kosbaar en sal dit niks verruil nie. Sy is nie meer met ons nie, maar die herinneringe van haar sal vir altyd in ons harte wees. Sy is weg en dit sal vir my baie lank neem om daaraan gewoond te raak. Hulle sê daar is niks so seer soos ‘n skielike dood van ‘n geliefde dier nie. Dit is ‘n baie groot eina en jou hart voel leeg. En soveel van dit is baie waar.

My hart het gevoel asof dit in ‘n miljoen stukkies gebreek was Maandagoggend met haar afsterwe en al wat nou vir my oorbly is die onthou van dit wat gewees het. Herinneringe van Roxy kan nie weggeneem word nie. Niemand kan dit doen nie.

Ek en my familie sal nooit Roxy vergeet nie. Ek sal altyd die herinneringe van my dierekind koester. My dierekind. Soms genoem Roxy Harty deur my. Ek sal haar nooit vergeet nie.

Mooi Dinge

Ek het baie sulke fotos van rose en blomme geneem in die verlede. Daar is niks so mooi vir my soos met fotos van blomme nie. Wat nog mooier is is water druppels op rose na ‘n aand van reën nie.

Hierdie roos is vanoggend geneem toe ons terug gekom het huistoe. Net ‘n bewys dat God altyd goed is vir ons. En maak nie saak hoe swaar dit gaan in die lewe nie, ons moet net die mooi dinge in die lewe raaksien. Dit is net weereens ‘n bewys dat alles gaan okay wees. Niks is vir altyd nie.